Oom Pat, Loftus, die banjo en die grap…

Oom Pat.
Só’t ons hom maar geken.
In sy ID-boekie was hy Gilbert Patrick Bands (of was dit Patrick Gilbert Bands?), maar hy was maar Oom Pat.
Van altyd af.
Ek’t sy pa en ma, Oom Bill en Tannie Sarie, as kind ook geken, asook sy broer, Oom Johnny, maar van die res van sy familie weet ek nie veel nie.
Oom Pat was getroud met Tannie Christine – die jongste van my pa se susters. Sy weer was vir ons maar Tannie Stien.
Tannie Stien leef nog.
Oom Pat nie meer nie.

Vir bitter baie jare het Oom Pat-hulle (dis nou hy, Tannie Stien, en hulle kinders – Deon, André en Sandra) in Blackwoodweg, Hennopspark gewoon. ‘n Groot huis, op ‘n ewe groot standplaas.
Oom Pat het vir die destydse Yskor gewerk – ek’s nie seker watter paaie Tannie Stien se loopbaan geloop het nie, maar later jare het sy dikwels vertel van haar werk by LIW (Lyttleton Ingenieurswerke, ‘n afdeling van die destydse Krygkor, vandag Denel).

Oom Pat was ‘n anderste ou – vir sy generasie.
Die rustigheid vanself, en beslis nie ‘n skoorsoekerige of dominerende man nie. Ek dink Tannie Stien was die een wat die besluite moes neem – Oom Pat sou hom gewis nie aan dringendheid óf dreigende gevaar te veel steur nie.
Hy was wel versot op rugby en het in sy jongdae glo self op die veld uitgedraf.
As kind, onthou ek, was Oom Pat ‘n seisoenkaartjiehouer by Loftus Versfeld. Deur een of ander kontak het hy gereël dat ek en my neefs en niggie daar programme verkoop wanneer ‘n wedstryd gespeel is.

Oom Pat knip ‘n uiltjie na ‘n Kersdag-middagete – ek dink dit was Kersfees 2005.

Op só wedstryddag het ons dan, in ‘n vertrek onder die hoofpawiljoen, by ‘n tannie aangemeld wat vir jou ‘n pak programme gegee het, en dan het jy dit loop en smous. As die eerste pak uitverkoop was het jy na die tannie terug gegaan, en vir jou nog voorraad gaan afhaal. Kort voor die begin van die wedstryd het jy gaan ‘opkas’. Hoeveel presies kan ek nie onthou nie, maar dan het jy ‘n paar sente gekry vir elke program wat verkoop is.
Benewens die geldtjie het jy ook ‘n ete-kaartjie gekry.

Daardie jare was eet-en-drink op Loftus nie so gesofistikeerd soos vandag nie – koot, ek sien vanaand op Facebook ‘n vriend, wat op ‘n manier deesdae ook by Loftus Versfeld werksaam is, deel ‘n plasing van ‘n selfoon-app waarmee jy tydens wedstryde kos kan bestel wat dan sommer by jou sitplek op die pawiljoen afgelewer word.
Daardie jare was daar nie sulke dinge nie.
Daar was nie eens selfone nie!

Kos by Loftus was destyds (ek praat nou van die middel tot laat 80’s) ‘n monopolie bedryf deur die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF). Van drank by die stadion was daar geen sprake nie – buiten nou die knertse wat deur omtrent almal ingesmokkel is (gedokterde naartjies en koelbokse waarin vodka oor die ys uitgegooi is was volop). Vir eet en drink was jy maar aangewese op die tannies van die SAVF – en verskeidenheid was nou nie juis hoog op die agenda nie.

Buiten vleispasteie, warmbrakke en ‘n paar ander sout-eetgoed, was die item waarna die meeste van ons programverkopers uitgesien het, die koeksisters by die SAVF-kosstalletjies. Nie sommer enige koeksisters nie! Nee, daardie jare was daar op Loftus Versfeld, danksy die tannies van die SAVF, ‘footlong’ koeksisters te kry.
Wat die presiese waarde was van die etekaartjies wat ons ontvang het kan ek nie onthou nie, maar ek onthou dat, as jy die goedkoopste van soutigheid en die kleinste van koeldranke gekies het, die kaartjie jou ook een van die ‘footlong’ koeksisters toegelaat het.
So lank soos…wel, ‘n ‘footlong’, so dik soos ‘n voorarm en so soet soos jy nie kon glo nie, is ek dikwels ná ‘n wedstryd met ‘n maagpyn huistoe.

Ná die programverkopery is ek ook altyd met my etekaartjie-proviand na die hoofpawiljoen. Oom Pat se seisoenkaartjie-stoel was reg langs een van die trap-paadjies, en daar het ek dan gesit, geëet en die wedstryd dopgehou.

Ek onthou dat daar op ‘n stadium, met groot fanfare, ‘n revolusionêre tegnologie bekend gestel is op Loftus: ‘n apparaat – iewers tussen ‘n gehoorapparaat en ‘n stel oorfone – waarmee jy kon hoor wat die skeidsregter vir die spelers op die veld te sê gehad het. Dit het ‘Veldore’ geheet.
Tannie Stien het nie gehuiwer of vir Oom Pat só kontrepsie te koop vir sy verjaardag daardie jaar nie.

Oom Pat het ook die banjo gespeel.
As kind, eintlik so lank as ek hom geken het, het dit my belangstelling geprikkel. Die klanke van ‘n banjo is vir my bitter mooi. Die manier waarop dié instrument kan spring tussen voetstamp-deuntjies en melankolie het my nog altyd beïndruk.

Oom Pat tokkel die snare.

Oom Pat het my ook die vuilste grap vertel wat ek ooit in my lewe gehoor het. Ek lag vandag steeds oor die aand toe hy, tot Tannie Stien se ontsteltenis, dié grap aan die etenstafel vertel het.

Daar’s nie regtig ‘n slot tot dié storie nie.
Dis maar net ‘n storie.
‘n Storie van my Oom Pat.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.