My Oom Daantjie op die hoek

(I’ve told/written this story before, but this song – Wheels, by Strings-A-Long – played on the radio today, and it reminded me of my Oom Daantjie again).

My oom (my ma se broer), Oom Daantjie Gerber, het verskriklike epileptiese aanvalle gekry – sy hele volwasse lewe.
Hy kon die aanvalle voel ‘aankom’, en as daar dan iemand naby was, het hy dié persoon gevra om nader te staan. Só erg het hy die aanvalle gekry, dat hy dan vasgehou moes word.
Tydens die aanvalle het hy soos ‘n trein gemaak – tjoekoe-tjoekoe – en verskriklik geval (en meermale ook sleg seergekry).
As daar die slag nie iemand in die nabyheid was om die vashouwerk te doen nie, was neerslaan Oom Daantjie se voorland.
My pa, wat ‘n keer of wat moes bontstaan met die vashou, het my al vertel dat Oom Daantjie, brandmaer soos hy was, so sterk soos ‘n os was wanneer hy ‘n aanval gekry het. Die vashouer het dikwels nie ongeskonde anderkant ‘n aanval uitgestap nie.

Oom Daantjie Gerber
Heel links, in die wit trui, Oom Daantjie Gerber.

Vir jare het Oom Daantjie-hulle in die Ooste van Pretoria gebly – in Garstfontein, op die hoek van Snowy Walker en Walter Bunton.
Snowy Walker, so verneem ek, was op sy dag ‘n befaamde Suid-Afrikaanse rolbalspeler. My soektog na die faam van Mnr. Bunton het my tot hede nog tot geen slotsom gelei nie. Daar was en is vele Walter Bunton’s, maar ek kon nog geen skakel opspoor wat enigeen van hulle met dié straat sou kon verbind nie. Gegewe die ander name in die onmiddelike omgewing hoort Walter ook in een of ander sportsoort uitgeblink het, maar ek kan nie bevestig met watse bal of rakket hy vir homself ‘n straatnaam verdien het nie.

Iedergeval.

Op die hoek van dié twee strate het Oom Daantjie vele ure deurgebring in sy pynlike netjiese motorhuis. Hy’t Camel Filters gerook (soos ‘n skoorsteen), en Coca-Cola was sy dood. In die motorhuis was ‘n klein kroegyskassie waarin sy koeldrank gehou is.
Oom Daantjie was ook gek na musiek.
Hy’t ‘n spul van daardie kasset-kassies gehad wat soos aktetassies gelyk het, en daarin was sy musiekversameling (letterlik honderde kassette) netjies, alfabeties rangskik.
Saans en oor naweke, wanneer hy alleen daar in die motorhuis by sy werksbank gesit het, homself met allerlei besig gehou het, en elke nou en dan met ‘n tjoekoe-tjoekoe neergeval het, was daar altyd musiek in die agtergrond.
Dié snit, Wheels deur Strings-A-Long, het ek vele kere uit die kassetspeler in sy motorhuis hoor speel (so ook Sweet Sixteen van The Furey’s).

Vandag, oppad na ons wegbreek, speel dit op die draadloos, en ek dink dadelik aan Oom Daantjie.
Ek twyfel geensins dat Oom Daantjie iemand was wat geglo het in die hiernamaals nie, en wáár dit ookal is waar mense wat só glo hulself na die dood bevind, hoop ek maar net Oom Daantjie het dáár altyd iemand byderhand vir die vashouslag.
Hy’t genoeg geval en seergekry in sy lewe.

Dis seker maar ál wat almal van ons voor hoop: net iemand naby vir wanneer jy vashou nodig.

(Daar gaan sekerlik nooit ‘n straat na Oom Daantjie vernoem word nie, maar hy’t ook ‘n storie gehad.)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.